Pasta

Pasta
Tuisgemaakte pastanoedels.
Tuisgemaakte pastanoedels.
Soort gereg Stapelbestanddeel vir baie kossoorte
Land Vlag van Italië Italië
Hoofbestanddeel Durumkoringmeel
Ander bestanddele Allerlei
Pasta met eiervrug en tamaties.

Pasta is ’n tradisionele Italiaanse stapelvoedsel.[1] Die eerste verwysing daarna kom in 1154 in Sisilië voor.[2]

Dit is ’n noedel wat van ongegiste deeg van durumkoringmeel, gemeng met water of eiers, gemaak en in verskillende vorms vervaardig word. Dit word gekook of gebak. Meel van ander soorte graan kan ook gebruik word. Pastas kan breedweg in twee soorte verdeel word: gedroog (pasta secca) en vars (pasta fresca).

Die meeste droë pastas word vervaardig deur middel van ’n persingsproses, maar dit kan ook tuis gemaak word. Vars pasta is tradisioneel met die hand gemaak, soms met behulp van ’n eenvoudige masjien,[3] maar vandag word baie soorte vars pasta ook kommersieel met groot masjiene vervaardig en is dit algemeen in veral spesialiteitswinkels te kry.

Beide droë en vars pasta is in ’n verskeidenheid soorte en vorms verkrygbaar; 310 spesifieke vorms is bekend en meer as 1 300 name is al opgeteken.[4] In Italië wissel die naam van spesifieke vorms pasta dikwels van plek tot plek. Die vorm cavatelli is byvoorbeeld onder 28 verskillende name bekend, na gelang van die streek of dorp. Algemene soorte pasta sluit in plat, lang, dun of buisvorms.[5] Droë én vars pasta word in Italiaanse kookkuns in drie kategorieë geregte gebruik: Pasta asciutta is ’n gekookte pasta wat met ’n sous of smaakmiddel voorgesit word; in pasta in brodo is die pasta deel van ’n soort sopgereg; en in pasta al forno is die pasta in ’n gereg wat gebak word.[6]

Pasta is gewoonlik ’n eenvoudige gereg, maar daar is baie verskillende soorte vanweë die veelsydigheid daarvan. Sommige pastageregte word in klein, eenvoudige porsies as ’n eerste gang voorgesit. Pasta word ook in ligte middagetes gebruik, soos in slaaie, of groot porsies vir aandete. Dit kan warm of koud voorgesit word. Pastasouse wissel in smaak, kleur en tekstuur. Wanneer ’n soort pasta en sous gekies word om saam voor te sit, is daar gewoonlik algemene reëls wat geld. Eenvoudige souse soos pesto is ideaal vir lang, dun vorms, terwyl tamatiesous goed saam met dikker pastas gaan. Dikker souse klou ook makliker aan die gate en groefies van buisvormige of gedraaide pastas. Die ekstra sous wat ná die ete op die bord agterbly, word dikwels met ’n stuk brood opgevee.[7] Pasta bestaan hoofsaaklik uit stysel, met klein hoeveelhede proteïen en mangaan.

  1. Ehrlich, Richard (6 Mei 2009). "Process of Elimination". The Guardian (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Februarie 2020. Besoek op 7 Julie 2012.
  2. McClatchey, Caroline (15 Junie 2011). "How pasta became the world's favourite food" (in Engels). BBC. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Junie 2019. Besoek op 23 Maart 2012.
  3. Hazan, Marcella (1992) Essentials of Classic Italian Cooking, Knopf, ISBN 0-394-58404-X
  4. Zanini De Vita, Oretta, Encyclopedia of Pasta, University of California Press, ISBN 9780520255227
  5. Hazan, Giuliano (1993) The Classic Pasta Cookbook, Dorling Kindersley, ISBN 1564582922
  6. "Besoek op 21 Maart 2012" (in Engels). Italianfood.about.com. 10 April 2012. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Februarie 2017. Besoek op 30 Julie 2012.
  7. Pasta. UK: Parragon Publishing. 2005. pp. 6–57. ISBN 1-4054-2516-4.

Developed by StudentB